Gesonde liggaam en siel!


Dit is vir my vreeslik om te hoor hoeveel jongmense deesdae op medikasies soos Roacutane en Oratane is vir hulle velle.  Dit voel net vir my of die dokters elke 2de kind met meer as 2 puisies op medikasie sit as ’n noem dit dan maar quick fix.  Medikasie is goed en wel in erge gevalle ja, maar word ons regtig goed genoeg ingelig oor hierdie medikasies se werking en die newe-effekte en gevare?  Of is dit net deesdae te maklik om sommer net ’n pil te pop vir elke pyntjie en grilletjie...

So kom ek gee bietjie vir julle die nugtere feite swart op wit.

Wat is aknee en wie kry dit?  Aknee is baie algemeen onder kinders en tieners tussen die ouderdomme van 10 en 25 jaar.  80% van mense sal op een of ander stadium sukkel met aknee, maar slegs 5% van hulle sal sukkel met erge aknee.  Erge Aknee is meer as net die paar hormonale puisietjies waarmee tieners sukkel.  Erge aknee gaan gepaard met dieper sere wat ons siste noem op areas soos die gesig, nek, bors en rug.  Hierdie siste ken ons ook almal as ’n “blinde puisie” en gaan gepaard met erge inflammasie en swelling en is heel dikwels taamlik pynlik.

Aknee word onder geen omstandighede veroorsaak deur gemorskos, sjokolade, gaskoeldrank of ’n vuil vel nie.  Aknee is ’n vel probleem of noem dit dan maar ‘n velsiekte en dit moet dan ook behandel word soos een.  

Wat is Roacutane / Oratane (die generiese medikasie)?
Hierdie kapsules bevat ’n bestanddeel soortgelyk aan vitamiene A.  Dit werk deur die olie kliertjie in die vel te krimp sodat daar minder olie geproduseer kan word.  Dit sal dan ook die hoeveelheid bakterie op die vel verminder en dit is die bakterie wat dan ook verantwoordelik is vir die geel “etter” in die puisies sowel as die inflammasie wat gepaard gaan met aknee.

Wanneer is hierdie medikasie aanvaarbaar?  Hierdie medikasie mag SLEGS voorgeskryf word as laaste uitweg.  Indien jy reeds op ’n goeie velsorgroetine geplaas is sonder resultate en reeds ander middels soos antibiotika en die pil vergeefs probeer het.  Terwyl jy dan op Roacutane is, moet jy streng gemonitor word vir die newe-effekte en jy moet die regte velsorgroetine volg.

Dit is baie belangrik dat enige iemand op hierdie medikasie baie mooi na hulle self moet kyk.  Dit is baie belangrik dat ’n gesonde leefstyl en ’n gesonde eetpatroon gevolg word om die newe-effekte van die medikasie tot die minimum te beperk.

Dra ALTYD ’n sonblok van 20+

Moenie enige alkohol inneem nie.

Moenie bloed skenk tot ten minste 4weke nadat jy opgehou het om die medikasie te gebruik nie.

Moenie enige multivitamien en aanvullings wat vitamiene A bevat inneem nie.

Moenie enige ander medikasies soos antibiotika vir die vel saam met die Roacutane gebruik nie.

Dit is ook baie belangrik dat alle jongmense op hierdie medikasie bewus daar van moet wees dat enige erge tipe van sport of kontaksport vermy moet word.  Die Roacutane kan lei tot spierpyne en swak prestasie.
Slegs velsorgprodukte wat deur ’n gekwalifiseerde skoonheidsterapeut voorgeskryf is, mag gebruik word saam met die medikasie.

Sommige van die newe-effekte van Roacutane en Oratane sluit in die volgende:

Baie droë en sensitiewe of selfs ’n rooi vel wat maklik afdop.

Droë, gebarste lippe.

Droë neus wat lei tot neus bloei

Droë oë

Son sensitiwiteit

Seer en stywe spiere en gewrigte

Vel infeksies

Handpalms en voetsole wat afdop

Bloeiende en geïnflammeerde  tandvleis

Hoofpyn

Swak visie

Duiseligheid

Gewigsverlies

Diarree

Depressie

So ek dink julle sien nou hoekom ek so bitter versigtig is vir hierdie medikasie.  Daar is net soveel gevaarlike newe-effekte dat dit nie regtig die uitwerking daarvan die moeite werd maak nie.  Indien daar van julle is met tieners wat sukkel, of as jy self sukkel met velprobleme en aknee, kom praat asseblief eerste met my voordat jy sommer net dokter toe hardloop.  Ek sal jou op ’n goeie velsorgroetine plaas (wat jy kan bekostig!) en dan sal ek jou ook vir gereelde gesigsbehamdelings wil sien om die vel te monitor.  Dit saam met ’n paar leefstyl aanpassings sal reeds ’n groot verskil maak en indien jy na ’n maand nog geen verskil sien nie sal ek saam met jou die verdere stap neem en dan begin kyk na medikasie as ’n volgende opsie. 

Onthou, ek is altyd daar om te help en raad te gee waar ek kan!  Kontak my gerus as julle nog inligting nodig het!

Al my liefde
m